Dagstukkie 13 Okt 2020.


Liewe Gemeente

Jare gelede was Pop besig met haar finale sielkunde eksamens. Die eksamenlokaal waar sy die spesifieke vak moes skryf was in die Pierneefsaal en dit was op n Saterdag oggend 8 uur. Ek het haar daar afgelaai en ek was nie lus om weer huistoe te ry en later terug te kom nie en het gewonder wat om te doen om die tyd om te kry want dit was n drie uur vraestel. Oppad het ek gesien daar naby is n laerkool waar iets aangaan en ek besluit toe om te gaan kyk wat daar gebeur.

Dit was toe n atletiek byeenkoms en ek kry vir my ‘n sitplek op die pawiljoen. Ek het die oggend baie geniet, lekker gekuier met die ouers om my, lekker hande geklap vir al die wenners en toe gebeur iets wat tot vandag my lewe verryk het en my ook n paar dinge anders laat doen het so met die tyd.

Die groter seuns tree toe aan vir die 1200m. Onder die atlete was daar so n klein outjie wat ook deelneem. Ek het so n paar “ag siestog, gaan hy ook deel neem” opmerkings gehoor wat gemaak is uit simpatie vir die oudtjie, want hy was regtig klein en het nie eers by die ander se skouer gekom nie.

Al die atlete is so in die wedloop van agteraf by die oudjie verby en toe die voorste groep die wenstreep oorsteek toe het die oudjie nog n volle rondte om te voltooi, maar hy kyk nie links of regs nie, hy fokus op die baan en hy hardloop.

Toe gebeur die mooiste ding. Die wen groep het nie gestop om eers ingedeel te word in hul wenplekke nie, hulle het net aangehou hardloop tot by die oudjie en soos met n erewag saam met hom gehardloop en met elke tree hom aangemoedig, jy kan, jy kan, jy kan. Die hele palwiljoen het mal gegaan, voete gestamp en saam met die groep die oudjie aangemoedig, jy kan, jy kan, jy kan en toe hy die eindstreep haal het die groter seuns hom op hul skouers getel en vir hom ge-hiep-hiep-hoera!!!

Ek het nog nooit soveel mense gesien wat sneesdoekies en sakdoeke uithaal om trane af te vee nie.

Toe ek daar wegry het Heb 12:1 deur my kop gemaal en ek het gedink dit is soos ons as kerk moet wees.

HEBREËRS 12:1
Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop,

Liewe Gemeente om ons naaste lief te hê beteken mos dit, om eers seker te maak almal is veilig tuis, almal het die wedloop voltooi sodat almal saam die oorwinnaars prys kan ontvang. Ek wil vandag ook vir jou sê: “Jy kan, jy kan!!”

Hardloop dan met volharding en kom ons wees mekaar se aanmoediging.

Vrede vir jou.

Cois.







Comments

Popular posts from this blog