GEDAGTE VIR DIE DAG
DONDERDAG 22 OKTOBER
Job 2:7-13
Satan is onstuitbaar, maar ….
Satan brand met sy volle arsenaal op Job los. Die resultaat is dat Job se hele lyf, van sy kop tot sy tone, oortrek is met pynlike swere. Heel moontlik uit moedeloosheid gaan sit Job letterlik op 'n ashoop en krap hierdie seer plekke met 'n potskerf. Alhoewel ons tot dusver nog niks van haar gehoor het nie, word daar nou vertel dat Job se vrou na hom toe kom. Sy kan nie verstaan dat Job, ten spyte van alles wat al gebeur het, steeds lojaal aan God bly nie. So speel sy natuurlik verder in Satan se hand, al het sy dit waarskynlik nie so verstaan nie. "Bly jy nog steeds vroom?" Raak van jou frustrasies ontslae; vloek God liewer, al beteken dit dat jy moet sterf! Al kom hierdie woorde van sy eie vrou af, bly Job sterk: ons moet bereid wees om die goeie én die slegte wat van God af kom te aanvaar. Job se drie vriende daag op om hom te troos. So sleg lyk hy dat hulle hom aanvanklik nie eers herken nie. Wat hulle wel duidelik kan sien, is sy smart as gevolg van dit wat met hom gebeur het. So genadeloos as wat Satan met Job was, so genadeloos is hy vandag nog. Om staande te bly, vra groot oortuiging.
Comments
Post a Comment