GEDAGTE VIR DIE DAG
MAANDAG 19 OKTOBER
Job 1:1-12
Dit is maklik om God te dien, behalwe as ….
In die eerste vers van die boek Job word ons aan die hoofkarakter van die verhaal voorgestel. Reg aan die begin word dit duidelik gestel watter tipe mens hy was: "Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy." Wat meer sou God van sy dienaar kon verwag? Hy word ook geteken as 'n baie welvarende man. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad, tien kinders in totaal. Sy godsdienstige lewe was uit die boonste rakke. Inderdaad 'n baie besondere en merkwaardige mens, dié Job. Vir seker was hy nie iemand met wie enigiets ooit kon skeefloop nie! Is dit regtig so? Beteken 'n gesonde en lewendige verhouding met God dat ek en jy alle pyn, hartseer en seerkry gespaar is? Kom ons kyk wat die verhaal van Job vir ons hieroor wil sê.
"Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie. U beskerm hom dan … alles wat hy doen (is) voorspoedig." Klink hierdie woorde dalk of dit net sowel ek en jy kon wees wat dit gesê het? Hoe moeilik kan dit nou wees om God te dien, te aanbid en te loof as jou lewe net vreugde, voorspoed en plesier inhou. Satan het min of meer dieselfde vermoede gehad. Daarom konfronteer hy God met die woorde: "Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in die gesig vloek nie." Satan was oortuig dat Job se vroomheid nie toe te skryf was aan sy werklike toewyding aan God nie, maar dat hy net in God se "goeie boekies" probeer bly het om te verseker dat sy lewe sonder sorge voortduur. God dink anders. Hy gee Satan toestemming om Job te beproef - hy mag hom net nie doodmaak nie. Ek kan nie help om te wonder hoe God hieroor gevoel het nie. Sê nou net Job se lewe was regtig 'n rookskerm, dat dit vir hom eintlik net oor sy rykdom en besittings gegaan het? Ek kry so 'n koue gevoel langs my rug af as ek dink hoe ek en jy sou reageer indien God ons voor so 'n toets sou stel.
Comments
Post a Comment