Liewe gemeente,
Ons dink steeds na oor die karakter van God. Eksodus 34:6-7 is `n kernteks in hierdie verband. Hierdie teks word dwarsdeur die Ou Testament aangehaal en geherinterpreteer. Ons vind die teks oorspronklik in die konteks van God se verbond, of huwelik met sy volk. Hy verbind hom aan Moses en die volk met hierdie woorde, en dít nadat hulle die goue kalf aanbid het, en God weer oor begin het met die verbond. Die teks lees so:
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”
Hier vind ons die twee kante van God, liefde en oordeel. Vandag wil ek kyk hoe die boek Jona hierdie konsep hanteer.
Jona is `n oordeelsprofeet. Jy word na Ninevé gestuur om God se oordeel oor hulle bekend te maak. Dit sluit aan by die oordeel-karakter van God. Jona is onwillig om te gaan, maar uiteindelik gebruik God die elemente om Jona te dwing om te gaan. Dan gebeur die wonderlike-die Nineviete bekeer hulle tot God en die oordeel gaan oor in die redding en liefde. Jona sukkel om hiedie te verstaan-hy was dan gestuur om oordeel te preek, maar nou bewys God liefde! In Jona 4:2 interpreteer Jona Eksodus 34:6-7 op `n treffende manier: Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het. Hier erken Jona dat God se liefde sterker is as sy oordeel. Is dit hoe ons God ervaar in ons lewens? Kom ons kyk of ander tekste dieselfde gevolgtrekking maak rondom God se liefde op grond van Eksodus 34:6-7.
Ds Johan
|
|
|
|
|
|
|
|
Comments
Post a Comment