Liewe gemeente,
Ons dink vandag aan die bekende gedeelte in Miga 6:6-9. In hierdie gedeelte vra die teks wat ek sal saamvat as ek voor die Here gaan kniel. Sal ek my vee, of selfs my eersgeborene vir Hom offer?Die antwoord kom in vers:"8 Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God".
Hierdie woordjie “reg” in die sin van reg en geregtigheid, kom dwarsdeur die profeteboeke voor. Hierdie was die praktiese, die sigbare van hulle verhouding met God-dat hulle reg en geregtigheid sal geskied orals waar hulle gaan. Ek dink dat ons te maklik die christenskap in `n dogma verander het. Hier lê egter die kern van `n verhouding met God:dat dit `n verskil sal maak in die wêreld rondom ons.
Ek dink veral terug aan die Reformasie, die tyd toe die `n klomp gelowiges weggebreek het van die Rooms-Katolieke Kerk. Uit die aard van die saak was baie van die sake waaree hulle geworstel het, dogmaties van aard. Dink maar aan die nagmaal, redding en die voorsieningheid van God-alles swaar en abstrakte sake. Nogtans skryf een van die bekende hervormers, Johannes Calvyn, oor hierdie woordjie "geregtigheid" en hy noem dit letterlik `n manier van aanbidding. Hierdie gedagte strek tot by Calvyn se siening van die Tien Gebooie. Hy beskou dit nié as harde, kliniese, reëls nie, maar as `n manier van leef. Hy skryf oor die gedagte om God en jou medemens lief te hê (die kern van die Tien Gebooie) soos volg: “(to)live in such justice and equity with our neighbors that we demonstrate thereby that we are true children of God.”
Terug by Miga. God verwag nie offers en beloftes nie. God verwag dat ons geloof in Hom êrens sal oorgaan. Dat ons sal lééf en `n verskil maak.
Groete
Ds Johan
Comments
Post a Comment