Liewe gemeente,


Ons kyk vandag weer na Eksodus 34:6-7, waar God se karakter in terme van oordeel en genade beskryf word. Vandag kyk ons hoe hierdie vers in die Psalms geinterpreteer word.


In Psalm 85:16 lees ons: "U, Here, is 'n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou". Hierdie woorde vind plaas waar die psalmdigter `n petisie of versoek na die Here bring. Die psalmdigter is hulpeloos en arm (v1) en smeek om genade. In vers 15 beroep hy homself op God se genade. Let op dat gedeelte waar God se oordeel beskryf word (Eksodus 34:7) nié hier aangehaal word nie. God se genade word eerder beklemtoon.


Psalm 103:8 lees: "Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde". Hierdie is `n lofpsalm wat God loof en prys vir wat Hy ís en doén. Die volgende vers verduidelik iets van God se genade: "Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie". Weereens is daar geen verwysing na God se oordeel in hierdie gedeelte nie.


Psalm 145:8 is nog `n voorbeeld:" Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde". Hierdie Psalm beskryf God se genade oor die hele skepping. In die oorspronklike Hebreeus kom die woordjie “al” wat die hele skepping beskryf, 16 maal voor. In vers 9 lees ons: "Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het". Weereens is daar geen aanduiding van die wraak of oordeel wat ons in Eksodus 34:7 raaklees nie.


Die Psalms beklemtoon dan God se genade as `n samevatting van sy karakter. Ons het dit gister by die Jona-verhaal ook gesien hoe God se genade in daardie geval swaarder geweeg het as sy oordeel. Daar bly nog egter `n vraag oor: wat maak ons met die Eksodus 34:7, wat die oordeel-karakter van God beskryf? As God net vol genade en liefde is, waarom is daar `n teenpool van hierdie genade in vers7? Ons gaan môre hierdie vraag probeer beantwoord deur vir oulaas na Eksodus 34 te kyk.


Groete

Ds Johan


Comments

Popular posts from this blog