Liewe gemeente,
Ons kyk vandag weer na Eksodus 34:6-7 , en die tweekantige beskrywing van God. Aan die een kant, die mooi beskrywing van sy liefde en genade, en aan die ander kant die onverbiddelike oordeel wat niemand kan ontsnap nie. Ons het aan die hand van `n paar tekste hierdie week gesien hoe die genade-karakter van God heeltyd die oorhand kry. Om te verstaan waarom daar nog steeds in Eksodus van God se oordeel gepraat word, moet ons iets van die verbond verstaan.
Eksodus 34:6-7 vind plaas na die insident van die goue kalf. God moet Homself weer aan sy volk verbind, nadat hulle die verbond verbreek het. In die Nabye Ooste was die verbond of ooreenkoms baie algemeen, en het dit `n spesifieke struktuur gehad. Eers is daar `n historiese terugblik, die verbond word uiteengesit, en dan is daar `n seën en vloek-gedeelte. Dit behels dat daar gevolge is as die ooreenkoms verbreek word( soos enige kontrak). Om hierdie rede lees ons dan in Eksodus 34 van die wraakgedeelte. Dit hoort so. Nogtans kies God om sy liefde-karakter voorop te stel. In Hosea 11 lees ons , nadat die volk die verbond verbreek het, hoe die Here sê dat Hy hulle kan uitwis volgens die kontrak of verbond, maar dat sy liefde té sterk brand. Hier vind ons die hartklop van die verbond, wat soos `n refrein deur die hele Bybel trek: God is liefde.
Ds Johan
Comments
Post a Comment