GEDAGTE VIR DIE DAG

DONDERDAG 5 NOVEMBER


Job 5:1-7

Is alles wat met my gebeur regverdig?


Elifas sit sy gesprek met Job voort. In die eerste plek sê hy vir hom dat dit nie veel gaan help om verbitterd te wees nie, want niemand gaan na hom luister nie. Hy is selfs bietjie sarkasties as hy insinueer dat daar nie eers 'n engel is wat hom kan help nie. Waaroor gaan die hele argument? Job glo dat hy onskuldig deur God "getreiter" word (Job 3). God is onregverdig in die wyse waarop Hy hom hanteer; hy het mos niks verkeerds gedoen nie. Elifas, daarenteen, suggereer baie duidelik dat Job nie moet dink dat hy so onskuldig is nie. Om dít te verstaan, moet ons begryp dat Elifas een van die mense van sy tyd was wat geglo het dat dít wat met jou gebeur, die gevolg is van iets wat jy gedoen het. Anders gestel: as 'n mens A doen, gaan B met jou gebeur; omgekeerd, as B met jou gebeur, dan is dit omdat jy A gedoen het. Daar word gewoonlik na hierdie tipe denke as sisteemwysheid verwys. Vandag besef ons dat dit 'n baie gevaarlike siening is. Ons kan nie bloot sê dat (iets slegs) wat met my gebeur direk die gevolg is van iets (verkeerds) wat ek gedoen het nie. Daarom is Elifas se "verduideliking" ook nie vir Job aanvaarbaar nie.


Comments

Popular posts from this blog