GEDAGTE VIR DIE DAG

MAANDAG 2 NOVEMBER


Job 3:1-15

Job se smart kry die oorhand oor hom


Uiteindelik kom Job by die punt waar hy nie meer die lyding kan verduur nie, nog minder dit verstaan. As die lewe dan net uit swaarkry, pyn en lyding bestaan, wat is die sin daarvan? Toe sy vrou met hom gepraat het, het hy nog kans gesien vir alles. Nou nie meer nie. Sy drie vriende sit boonop nou al sewe dae by hom, maar hulle sê niks. Dan kook Job as't ware oor: "Die dag waarop ek gebore is, moes nooit aangebreek het nie …." Indien dit die geval was, sou hy nie al hierdie dinge hoef deur te gemaak het nie. En as hy dan wel gebore moes word, sou hy eerder verkies het om onmiddellik te sterf. Dan kon hy nou rustig saam met die dooies gewees het. In plaas daarvan, moet hy 'n lewe van hel deurmaak. Wat hier met Job gebeur, is 'n draaipunt in sy lewe. Hy is nie meer gewillig om te aanvaar dat die lewe (sy God?) sy lewe so vernietig nie. Het Job sy geloof finaal verloor? Miskien moet ons nie te maklik oordeel nie. Ek sien dit eerder dat Job uiteindelik by die punt kom waar hy sy smart en seer voor God neersit (neergooi?). Hoe ookal, ek en jy mag ook ons pyn voor God uitspreek.

Comments

Popular posts from this blog