Liewe gemeente,

Ek deel vandag weer `n kort gedagte oor die hemelvaart, tesame met `n vooruitskouing na Pinkster. Ek wil eers bietjie kyk na `n bekende kunswerk van Hans Süss von Kulmbach getiteld "The Ascension of Christ"(oftewel,"Christi Himmelfahrt").









Hierdie kunswerk is uniek deurdat dit op Jesus se voete fokus. Hierdie kunswerk is vir my `n voorbeeld van hoe eng ons die hemelvaart kan beskou. Jesus is wég. Hy het uit ons sig verdwyn. Net sy voete is nog sigbaar, en binnekort is dit óók weg. Net die toeskouers bly oor. Gister het ons juis stilgestaan by die feit dat Jesus nie weg is nie, maar dat Hy nader gekom het. Ek wil op twee tekste fokus om dit te illustreer.



Romeine 8:11 lees: "Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon". Efesiërs 1:19-20 brei uit op hierdie gedagte: "en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het".

Beide hierdie tekste illustreer die feit dat God sy werk in ons voortsit. Nog méér as dit: Hy rus ons toe deur sy Gees om die werk te doen. Die krag wat Hy vir ons skenk is groter as enigiets wat ons ken (lees weer die bostaande tekste!).

Terug by die kunswerk. Ek beleef hartseer deur Jesus se voete te sien. Dit simboliseer dat die voete wat die stofpaaie van Galilea geloop het om mense te leer, en wat die tempelgronde ingestap het om die priesters uit hulle gemaksone te ruk, nou wég is. Die volledige boodskap van Pinkster maak my egter bly. Die voete is nié weg nie, Óns is nou die voete wat die werk moet voortsit.

Mag ons dit nooit vergeet nie.
Groete en liefde
Ds Johan

Comments

  1. Baie dankie dominees Geerie en Johan, vir die besielende boodskappe wat ons aan die gang hou. Mag ons gou weer in ons kerk kan aanbid. Mag ons Vader julle seën

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog